Groei vir Goud 2025: ’n Jaar waarin Suid-Afrikaanse graanprodusente opbrengsgrense oortref het
8 min read|
⏳ 7-8 min - Estimated read time Die 2025 Groei


Die 2025 Groei vir Goud-opbrengskompetisie, aangebied deur Graan SA, sal onthou word as ’n mylpaal jaar vir Suid-Afrikaanse graan- en gewasproduksie. Hierdie jaar se kompetisie, nou in sy sesde bestaansjaar, het historiese opbrengs-rekords in verskeie gebiede en kategorieë gesien – ’n duidelike teken dat Suid-Afrikaanse graanprodusente wêreldklas gehalte kan lewer, selfs in wisselvallige seisoen omstandighede.
In ’n seisoen waarin gunstige reënval, verbeterde genetika en verfynde bestuurspraktyke saamgespan het, is rekordopbrengste in mielies, sojabone en koring regoor die land behaal. Wat hierdie jaar besonders maak, is dat die prestasies nie beperk was tot een streek of een boer nie – rekords is landwyd verbeter.
Wat is die Groei vir Goud-kompetisie?
Die Groei vir Goud-kompetisie is ’n nasionale opbrengste kompetisie wat produsente in staat stel om hul opbrengste met dié van ander in soortgelyke produksiestreke te meet. Produsente het in geskryf in verskeie kategorieë en word verder verdeel volgens streke en produksie stelsels (droë- en besproeiingsland). Die doel is om nader aan die genetiese potensiaal van dié verskillende gewasse te kom en om van mede produsente af te leer deur praktyke en standaardprosedures te deel.
By die kompetisie word nie net die hoogste opbrengs vereer nie, maar ook innovasie, slim boerderypraktyke en die veerkragtigheid wat daaragter skuil. Die evaluering vind jaarliks plaas tydens ’n toekenningsgeleentheid, wat produsente en die breër landbou-waardeketting bymekaar bring.

Mielies: Ses streke, ses nuwe rekords
Mielies was sonder twyfel die uitblinker van die 2025-kompetisie. In al ses mielie-streek-kategorieë is nuwe rekordopbrengste aangeteken – ’n ongekende prestasie wat die potensiaal van moderne mielie-produksie in Suid-Afrika onderstreep het.
Danie Bester van die Oos-Hoëveld naby Balfour het een van die mees indrukwekkende mielie-prestasies nóg gelewer. Met ’n rekordopbrengs van 20,05 t/ha het hy nie net sy streek se rekord verbeter nie, maar ook een van die hoogste mielie-opbrengste in die geskiedenis van die kompetisie aangeteken. Sy sukses word toegeskryf aan uitstekende genetika, streng bestuursdissipline en presisie boerderypraktyke wat voeding, plantestand en grondpotensiaal fyn balanseer.
In KwaZulu-Natal, waar klimaat en reënval dikwels wisselvallig is, het Brian du Toit van Dundee ’n nuwe streeksrekord opgestel met ’n opbrengs van 18,30 t/ha. Hy het dié prestasie onder droëlandtoestande behaal met ’n hoëprestasie-baster, wat wys hoe belangrik kultivarkeuse en tydige bestuursbesluite is. Sy rekord beklemtoon dat mielies ook buite die tradisionele hoëpotensiaal-gebiede tot uitsonderlike vlakke gestoot kan word.
Emje Ferreira het tydens sy deelname in die Sentrale streek ’n nuwe mielie-rekord van 16,02 t/ha opgestel. Wat hierdie prestasie besonders maak, is dat dit bereik is deur deeglike beplanning en doelgerigte aanwending van insette eerder as om oormatige te spandeer. Ferreira se benadering fokus op die regte besluit op die regte tyd – van die aanplant datum tot voedingstofbestuur – die dien as ‘n voorbeeld van hoe bestuursvernuf die opbrengsplafon kan skuif.
In die Oos-Vrystaat naby Reitz het Neul Menezes ’n opbrengs van 14,79 t/ha behaal en daarmee ’n nuwe streeksrekord opgestel. In ’n gebied waar die reënval en temperature jaarliks sterk wissel, wys sy prestasie hoe belangrik aanpasbaarheid en plaas-spesifieke bestuur geword het. Deur kultivarkeuse, grondbestuur en tydige ingryping, fyn te kombineer, het Menezes bewys dat stabiliteit en rekordopbrengste hand aan hand loop.
PG van Zyl van Schweizer-Reneke in Noordwes het ’n opbrengs van 14,25 t/ha behaal en die provinsie se vorige rekord verbeter. Sy sukses is as gevolg van ’n langtermyn fokus op grondgesondheid, wisselbou en konsekwente bestuurspraktyke. Van Zyl sien die Groei vir Goud-kompetisie as ’n instrument om elke besluit op die plaas te toets en voortdurend na verbeterings te soek.
Onder besproeiing het Braam du Plessis die hoogste mielie-opbrengs van dié 2025-kompetisie behaal met ’n merkwaardige 21,9 t/ha. Hierdie rekord beklemtoon die enorme potensiaal wat ontsluit kan word wanneer water, voeding en genetika optimaal bestuur word. Sy prestasie dien as ‘n bewys van hoe presisie-besproeiing en intensiewe bestuur die opbrengsplafon drasties kan verskuif.

Sojabone: Drie streke bereik nuwe hoogtes
In die besproeide sojaboon-kategorie het Roubel Thomas van Cookhouse die hoogste opbrengs van die jaar behaal met ’n indrukwekkende 7,7 t/ha. Hierdie rekord bevestig die waarde van verbeterde sojaboon-kultivars en streng bestuurspraktyke onder besproeiing. Sy sukses wys dat sojabone, mits dit reg bestuur word, opbrengsvlakke kan bereik wat voorheen as onhaalbaar beskou was.
Dawie Brits van die Oos-Hoëveld het ’n nuwe streeksrekord vir sojaboon produksie opgestel met ’n opbrengs van 7,12 t/ha. Sy prestasie is ’n direkte gevolg van goeie grondvog bestuur, ‘n geskikte kultivarkeuse en die voordele van ’n gevestigde wisselboustelsel. Hierdie rekord bevestig die groeiende rol van sojabone as ’n kerngewas in hoëpotensiaal-streke.
In die Sentrale streek het Johan Pistorius ’n sojaboon-opbrengs van 6,46 t/ha behaal en daarmee ’n nuwe rekord vir sy streek opgestel. Sy sukses beklemtoon hoe konsekwente bestuur en aandag aan grondstruktuur ’n groot rol speel, selfs in streke wat nie tradisioneel as top-sojaboongebiede beskou word nie.
Koring onder besproeiing: Bestuur maak die verskil
Hannes Bruwer het in die Suidelike besproeiingsgebiede die hoogste koringopbrengs van die 2025-kompetisie behaal met 13,96 t/ha. Hierdie rekord is die resultaat van verfynde waterbestuur, verbeterde kultivarkeuses en ‘n streng voedingsprogramme. Sy prestasie bevestig dat Suid-Afrikaanse koring onder besproeiing wêreldklas-resultate kan lewer.
In die Noordelike besproeiingsgebiede het Willem Kruger ’n nuwe koringrekord opgestel met ’n opbrengs van 11,345 t/ha. Deur presiese besproeiing-skedulering en doelgerigte voedingstofbestuur het hy die volle potensiaal van sy koringkultivar ontsluit en daarmee die maatstaf vir sy streek verhoog.
Sonneblom: ’n Uitsondering in ’n rekordjaar
Alhoewel sonneblom nie in die 2025 Groei vir Goud-kompetisie nuwe opbrengsrekords opgelewer het nie, het die gewas steeds sy waarde as deel van ’n gebalanseerde gewasrotasie bevestig. Die seisoen is gekenmerk deur nat toestande tydens kritieke groeistadiums, wat die voorkoms van siektes soos Sclerotinia sclerotiorum verhoog het en die opbrengspotensiaal beperk het. Ten spyte hiervan het produsente wat gefokus het op kultivarkeuse, siektebestuur en tydige ingryping steeds uitstekende resultate behaal.
Ernst Jonker van die plaas Katdoornkraal naby Wolmaransstad was die uitblinker in die sonneblom-afdeling. Hy het die eerste plek vir opbrengte behaal met 3,33 t/ asook in die olie-opbrengs kategorie met 41,3% olie, wat neerkom op 1,38 t olie/ha. Alhoewel geen nuwe nasionale rekord opgestel is nie, het sy prestasie gewys hoe bestuursdissipline, kultivarkeuse en siektebeheer steeds beloon word tydens ’n moeilike sonneblomseisoen.
PE Coetzee was ’n mede deelnemer in die sonneblom-afdeling, en sy deelname beklemtoon die belangrikheid van die kompetisie as ’n leerplatform. Soos baie ander sonneblomprodusente het Coetzee te kampe gehad met uitdagende weersomstandighede, veral die natter tweede helfte van die seisoen, wat siektedruk verhoog en opbrengspotensiaal beperk het. Nietemin het sy inskrywing gewys hoe produsente steeds fokus op kultivarkeuse, bestuursdissipline en risikoverspreiding, en hoe deelname aan Groei vir Goud help om eie praktyke teen dié van ander produsente te meet en te verbeter – selfs wanneer die seisoen nie ideale omstandighede bied nie.
Wat sê die 2025-rekords vir die bedryf?
Die uitslae van die opbrengskompetisie laat min twyfel oor die rigting waarin Suid-Afrikaanse produksie beweeg. Die rekordprestasies wat vanjaar behaal is, is nie per toeval of as gevolg van uitsonderlike seisoenstoestande alleen nie, maar dit weerspieël ’n bedryf wat toenemend data-gedrewe is, beplan en doelbewus bestuur handhaaf. Top produsente baseer hul besluite nie meer op gevoel of tradisie alleen nie, maar op grondontledings, opbrengskaarte, presisie-toerusting en plaas-spesifieke inligting wat elke besluit ondersteun.
’n Tweede duidelike les uit die 2025-resultate is dat grondgesondheid en wisselbou sentraal staan tot volhoubare en hoë opbrengste. Produsente wat konsekwent presteer, fokus op die opbou van grondstruktuur, organiese materiaal en biologiese aktiwiteit ondersteun, eerder as om te fokus op korttermyn-wins. Presisie-bestuur – of dit nou veranderlike plantestand is, voeding plasing of ‘n besproeiing skedulering is – het ontwikkel van ’n “luukse praktyk” na ’n noodsaaklike bestuursinstrument in moderne boerdery.
Terselfdertyd beklemtoon die kompetisie hoe groot die opbrengsgaping tussen gemiddelde en topboere is. Die 2025-rekords wys egter ook dat hierdie gaping nie onoorbrugbaar is nie. Deur kennis te deel, deelname aan kompetisies soos Groei vir Goud en ’n bereidwilligheid om praktyke krities te herevalueer, kan produsente hul eie opbrengsplafon geleidelik oorskry. Die kompetisie bevestig dat wanneer produsente leer by mekaar, aanpas by hul eie omstandighede en konsekwentheid verbeter, beter opbrengste binne bereik is vir ’n veel groter deel van die bedryf.
Wanneer bestuur, kennis en dissipline saamkom
Die stories van Danie Bester, Brian du Toit, Emje Ferreira, PG van Zyl, Dawie Brits, Johan Pistorius, Willem Kruger en Hannes Bruwer wys dat rekordopbrengste nie toevallig is nie. Dit is die resultaat van doelbewuste besluite, volgehoue leer en ’n bereidwilligheid om boerderypraktyke voortdurend te verbeter.
Die 2025 Groei vir Goud kompetisie het nie net nuwe rekords opgestel nie – dit het die maatstaf verhoog vir wat moontlik is in Suid-Afrikaanse gewasproduksie.











