Lusern in Suid-Afrika: ’n Volledige Praktiese én Tegniese Gids vir Moderne Produsente
6 min read|
⏳ 5-6 min - Estimated read time Watch the video


Watch the video here!
Waarom Lusern ’n Kernrol in Voerproduksie Speel
Lusern (Medicago sativa) is al dekades lank ’n hoeksteen van Suid-Afrikaanse voerproduksie — en nie verniet nie. Produsente waardeer die gewas vir sy hoë proteïenvlakke, uitstekende verteerbaarheid en die kwaliteit hooi wat dit lewer, maar ook vir die manier waarop dit grondgesondheid verbeter. Met sy diep wortelstelsel wat kompakte lae oopbreek en sy vermoë om natuurlik stikstof te bind, vorm lusern ’n integrale deel van volhoubare rotasiestelsels. Wat lusern egter uniek maak, is dat dit beide ’n tegniese én ’n praktiese gewas is: dit beloon goeie bestuur en straf swak praktyke vinnig.
Klimaat- en Grondvereistes
Lusern verkies streke waar die klimaat droog en sonnig is, met koel winters en warm, lang somers. Die gewas het ’n hoë behoefte aan lig en hitte, maar verkies terselfdertyd om nie permanent in nat toestande te wees nie — dit is een van die redes waarom die Noord-Kaap en Klein-Karoo so sterk presteer. Wat grond betref, benodig lusern ’n diep, goed gedreineerde profiel waarin wortels gemaklik kan afsak. ’n pH tussen 6.2 en 8.5 skep die ideale omgewing vir nodulasie en energieke wortelgroei. Sout bly ’n algemene struikelblok in besproeiingslande, en produsente moet die vlakke gereeld monitor, aangesien hoë soute die fisiese ontwikkeling van jong plantjies beperk en uiteindelik die stand se produktiwiteit onderdruk. Produsente wat lusern suksesvol vestig, skenk die meeste aandag aan die saadbed — dit moet fyn, ferm en gelyk wees, sodat saad konsekwent op die regte diepte geplaas word en eenvormig opkom.
Beste Streke vir Lusernproduksie
Oor baie jare heen het sekere streke hulself as luserngebiede gevestig, bloot omdat die klimaat en bestuurstoestande daar perfek saamval. Die Oranje Riviervallei in die Noord-Kaap staan bekend vir: warm, lang somers, hoë ligintensiteit en betroubare besproeiing, dit maak die streek ideaal vir swaar snitte en uitvoerkwaliteit hooi. Produsente in die Klein-Karoo en dele van die Karoo wys soortgelyke resultate, waar die droë klimaat en hoë son, die gewas jaar ná jaar bevoordeel. In die Vrystaat toon besproeiingskemas uitstekende opbrengste waar watergehalte en dreinering goed bestuur word. Wat al hierdie streke gemeen het, is nie net geskikte klimaatstoestande nie, maar produsente wat die waarde van konsekwente bestuur verstaan en toepas.

Planttyd: Die Gunstigste Venster
Die tydsberekening van lusern-aanplanting bepaal grootliks die vestiging van die stand. Herfs, spesifiek Maart tot Junie, bly die beste venster omdat die grond dan warm genoeg is vir vinnige ontkieming, maar die ekstreme somerhitte reeds begin afneem. Onkruid druk daal ook merkbaar in hierdie periode, wat jong saailinge ’n groot voorsprong gee. In kouer streke kan lente-aanplantings in Augustus en September suksesvol wees, maar produsente moet die risiko van laat ryp fyn balanseer. Somerplanting word selde aanbeveel, aangesien die kombinasie van hitte, hoë “evapotranspirasie (ET)” en intense onkruid druk die kans op ’n egalige stand drasties verlaag. Morné van Agricol se ervaring bevestig dit: “Maart tot Mei bly die venster waarin die meeste produsente die sterkste lusern kry.”
Kultivarkeuse en Dormansieklasse
Die dormansie klas van ’n lusernkultivar is meer as net ’n nommer — dit bepaal hoe die gewas oor die seisoene optree, hoe vinnig dit herstel, en hoe lank dit volhoubaar produseer. Dormante en semi-dormante klasse (5 tot 7) groei stadiger in winter, maar hulle spog met sterk kroonstrukture en langer standleeftyd, wat dit geskik maak vir koeler gebiede en vir weidings-doeleindes geskik is. Klasse 8 en 9 word die meeste gebruik in warmer, gematigde dele van die land, waar produsente mik vir hooi van hoë gehalte. Hulle bied vinnige hergroei, goeie blaarinhoud en ’n balans tussen kwaliteit en stand stabiliteit. In warm, besproeiingsintensiewe streke soos die Noord-Kaap is dormansie klasse 9 tot 11 egter onoortreflik. Met hul aggressiewe hergroei en kort sny siklusse (soms net 28 tot 35 dae), is hulle ideaal vir produsente wat swaar tonnenastreef. Agricol se Super Nova en ML99-kultivars word wyd benut, en die beskikbaarheid van ‘n dormansie 11 lusern, AG211, asook n brakverdraagsame kultivar, AGST9, bied produsente ’n unieke voordeel in warm produksiesones of waar brak-grondtoestande voorkom.
Wisselbou: Lusern se Waarde in Volhoubare Stelsels
Daar is min gewasse wat ’n plaas se grondgesondheid só dramaties kan verbeter soos lusern. Die diep wortelstelsel breek verhardings-lae oop en verbeter waterbeweging, terwyl die hoë biologiese aktiwiteit rondom die wortelsone grondstruktuur regstreeks opbou. Wanneer boere ná drie tot vyf jaar lusern weer na graan oorskakel, toon opvolg gewasopbrengste dikwels ’n opvallende hupstoot. Mielies, koring en gars groei sterker, benodig minder stikstofbemesting en toon beter wortelontwikkeling aan. Boere beskryf dikwels hul eerste koring ná lusern as “skoon, egalig en kragtig” — ’n bewys van lusern se langtermynvoordeel vir rotasiestelsels.
Autotoksisiteit en Grondrus
Een van die minder bekende, maar kritieke eienskappe van lusern is sy outotoksisiteit — ’n natuurlike verskynsel waar die ou lusern stand chemikalieë in die grond vrystel wat nuwe saailinge onderdruk. Dit beteken dat lusern nie graag opeenvolgend ná lusern groei nie. Produsente moet gewoonlik n paar maande wag tot die volgende herfs voordat hulle weer lusern op dieselfde land plant. As herplant tog vroeër nodig is, moet die ou stand heeltemal vernietig word en die land een siesoen met eenjarige graan of gras herstel. Produsente wat hierdie riglyn ignoreer, worstel dikwels vir die res van die stand se leeftyd met kolle wat swak groei, plante wat nie behoorlik wortels het nie en ’n veld wat nooit egalig lyk nie.

Plae en Siektes in Lusern
Omdat lusern so wyd verbou word, trek dit ’n groot verskeidenheid plae en siektes. Blaarluise — insluitend blougroen-, ertjie- en gespikkelde luis — kan vinnig druk op die stand plaas, terwyl die white-fringed beetle en wortelvreters die ondergrondse stelsels aantas. Siektes soos Phytophthora-wortelvrot en Sclerotinia kom veral in swak gedreineerde gronde voor. Die produsente wat die beste daarmee vaar, is dié wat gereeld monitor en vroeg optree, eerder as om paniekspuitwerk te doen nadat skade reeds groot is.
Waterbestuur en Besproeiing
Lusern is waterdoeltreffend, maar hoë produksie vereis streng vogbestuur. Onder besproeiing benodig die gewas tipies tussen 900 en 1 350 mm water per jaar, selfs meer, afhangend van die klimaat en dormansieklas. Die doel is om waterstres, veral tydens hergroei en blom, heeltemal te vermy, aangesien dit lei tot laer tonnemate én swakker kwaliteit. Produsente wat jaar ná jaar die beste resultate behaal, is dié wat op grondvogmeters, ET-data en water kwaliteitsmonitering staatmaak. In soutgevoelige gebiede word spoelbesproeiing en goeie dreinering gebruik om opbou te beheer voordat dit ’n probleem word.
Bemesting en Nutriëntbestuur
Aangesien lusern sy eie stikstof via Rhizobium-nodulebinding produseer, lê die fokus op voedingstowwe soos fosfaat, kalium, kalsium, magnesium en spoorelemente soos boor en molibdeen. Fosfaat is noodsaaklik vir energie-oordrag en wortelontwikkeling, terwyl kalium die plant se metabolisme en weerstand ondersteun. Boor stimuleer blomvorming en die ontwikkeling van meristematiese weefsel — en is veral geneig om laag te wees in sandgronde. Produsente wat suksesvol met lusern boer, begin altyd met ’n deeglike grondontleding en korrigeer die pH voordat hulle plant, aangesien suur gronde die werking van nodulasie-ensieme beperk.
Praktiese Uitdagings en Oplossings
Die mees algemene probleme — swak vestiging, hoë soutvlakke, outotoksisiteit, siekte-uitbrake en blaarverlies tydens hooimaak — ontstaan dikwels uit klein praktykefoute. Herfsplanting op ’n goeie saadbed, vroeë onkruidbeheer, gereelde watermonitering en die regte kultivarkeuse lê die grondslag vir ’n stand wat jaar ná jaar sterk presteer. Produsente wat konsekwent bestuur, kry meer snitte, beter gehalte en minder risiko’s.

Die Boer se Doel Bepaal die Stelsel
Geen twee plase of boerderye is dieselfde nie, en daarom moet elke lusernprogram aan die produsent se doel gekoppel word. Of jy mik vir swaar hooi, uitvoergehalte, intensiewe sny of langdurige standleeftyd, die kombinasie van die regte kultivar, gepaste planttyd, deeglike bestuur en Agricol se kundige leiding bepaal jou uiteindelike sukses. Wanneer hierdie faktore in harmonie saamwerk, word lusern een van die mees winsgewende en volhoubare gewasse op die Suid-Afrikaanse plaas.
Agricol: Tegniese Kundigheid vir Jou Streek
Agricol – met kundiges soos Morné Venter (083 631 7716) en Dawie du Plessis (071 852 1707), die nasionale bestuurder én spesialis in lusern asook -gewasbestuurder – speel Agricol ’n deurslaggewende rol in die volhoubare sukses van lusernproduksie regoor Suid-Afrika.
As streekspesialiste ondersteun hulle produsente met kultivarkeuse, dormansie-beplanning, water- en grondontledings, sout- en pH-bestuur, asook stelselintegrasie om opbrengste te maksimaliseer.
Kontak Agricol: www.agricol.co.za
Tel: 053 841 0675 (Kimberley)











