Selfberging van graan
Sit die beheer terug in jou eie hande met silo’s


Sit die beheer terug in jou eie hande met silo’s en graandamme
Graanopberging is een van die uitdagings wat so oud soos die boerderybedryf self is. Om graan effektief en veilig te berg, is die kern van graanopberging en -hantering.
Soos wat die boerderybedryf self gemoderniseer is, het die opbergingsvereistes ook skerp toegeneem.
Hoër opbrengste van graan per hektaar het die boer in staat gestel om die surplusopbrengste self te kan opberg indien dit koste-effektief gedoen kan word.
Vandag se moderne opbergingsfasiliteite bied opsies vir klein- tot grootskaalboere en hou verskeie voordele vir die produsent in:

1. Waardetoevoeging
Deur te verseker dat jy skoon, onbeskadigde en insekvrye graan stoor, skep jy vir jouself ‘n groot bate wat totaal in jou beheer bly tot en met die punt van lewering of verbruik.
Skoon graan wat self opgeberg word, betaal vir himself en die stoorspasie oor tyd.
2. Kostebesparing
Daar is ‘n aansienlike kostebesparing deur self jou graan op te berg. Vandag se sentrale stoorpunte is oorlaai met addisionele kostes en tariewe. (Hanteer-, skoonmaak-, differensiaal- en sifselverlieskostes om maar net ‘n paar te noem)
Deur self te stoor, kan jy meeste van die kostes vermy en die byproduk uit die skoonmaak- proses bly joune wat gewoonlik ‘n ideale byvoegsel vir voere is.
Die meeste van die bergingsfasiliteite wat RSA Grain Storage Solutions oprig, betaal hulleself deur gespaarde kostes oor ‘n termyn van 3 tot 5 Jaar.
3. Verbeterde logistiek
Met jou eie stoorspasie kry jy beheer oor die logistiek rondom die graanhantering.
Jy kan self bepaal wanneer daar trokke/waens moet kom om die graan van die stropers na die silo’s te skuif.
Jy skakel die wagproses om in rye te staan vir ‘n aflaaibeurt uit met jou eie aflaaipunt. Wat ook in ag geneem moet word, is die kostebesparing van die verminderde vervoerkoste, algemene gebruikskoste op jou trokke en waens en dat jy kan bepaal om jou stoorpunt op die beste sentrale punt op te rig ten opsigte van jou lande se ligging.
4. Kwaliteitbeheer
Met die vermeerdering van multi-fasette boerderye word kwaliteit van die graan wat die boer self gebruik en lewer, al hoe belangriker.
Met jou eie opbergingsfasiliteit kan jy verseker wees dat die kwaliteit graan wat jy daar ingesit het dieselfde gaan wees as wat jy gaan uitlaai.
Baie sentrale stoorpunte sal grane van verskillende grade vermeng om vir hulle die beste koste effektiewe klassifisering van hoër graan te bekom. By jou eie stoorspasie bepaal jy self die kwaliteit van die produk wat gestoor en gelewer word.
5. Vog- en Temperatuurbestuur
Een van die afdelings van graanopberging wat die meeste verbetering gesien het oor die afgelope paar jaar is vog- en temperatuurbestuur.
Vroeër jare was dit nie moontlik om akkuraat te bepaal wat presies die toestande in jou silo’s of graandamme is nie.
Vandag bied ons vir boere moniteringstoerusting wat voldoende akkurate data terugstuur vanuit die silo om dit effektief en veilig te bestuur. Temperatuur en vog word konstant gemonitor deur sensors in die silo’s of graandamme en kan lewendige data gee oor die vog- en temperatuur binne in die gestoorde graan.
So voorkom ons daardie onaangename verrassing van graan wat verkeerd gestoor is en begin ontkiem of vrot terwyl dit opgeberg word.
6. Ope markvoordeel
Deur self graan te stoor, gee dit ook die krag in die boer se hand in terme van leweringspunte en afsette.
Die boer word nie meer gedwing om die een sentrale punt se aanbod vir aankoop of hulle agente vir bemarking te gebruik nie. Daar is verskeie platforms en maatskappye wat veral spesialiseer in die bemarking van graan uit selfopbergingspunte soos silo’s en graandamme.
Die boer kan ook self bepaal wanneer hy die graan wil verkoop en daaruit ook die optimale voordeel van verskillende markpryse van graan deur die jaar verkry.


7. Langtermynstoor
Graanopberging is nie net vir die graanprodusent nie, maar ook vir boerderye wat om lewende hawe gesentreer is.
Aankoop van graan teen die laagste moontlike prys in die jaar en dan stoor vir die gebruik daarvan deur die hele seisoen, verseker dat voerkoste so laag as moontlik gehou word.
Van die grootste stoorspasies op privaateiendom word juis aangewend vir die produsering van voer vir diere en pluimvee.
8. Risikobestuur
Een van die punte wat gewoonlik nie in ag geneem word nie, is die riskobestuur-aspek van selfopberging.
Met jou eie stoorfasiliteit kan jy die risiko daaraan verbonde verminder. Met korrekte prosesse en beheer oor jou stoorfasiliteite kan jy die risiko mitigeer en selfs uitskakel op sekere aspekte.
Graan in jou eie silo’s en graandamme is ook te alle tye onder jou beheer. Daar kan op geen punt onsekerheid wees of jou graan wel nog in die silo’s is en of dit dalk al gelewer is sonder dat jy daarvan bewus is nie.
Na aanleiding van die bogenoemde punte kan gesien word watter geweldige voordele dit inhou om bergingsfasiliteite op jou eie grond te hê.
Die belangrikste is om te verseker dat die stoorspasie wat jy oprig, geskik is vir jou spesifieke behoeftes. Boerderye verskil en een oplossing wat op jou buurman se plaas werk, is nie noodwendig die beste oplossing vir jou opset nie.
Ons by RSA Grain Storage Solutions spesialiseer in PASMAAK- oplossings wat vir jou spesifieke behoeftes ontwerp en ontwikkel word.
Met selfopberging kan jy baie risiko’s uitskakel en die beheer oor jou graan terug in jou eie hande sit. Eerder as om nog van jou wins af te staan aan ‘n sentrale leweringspunt, maak dit meer sin om ‘n bate op jou plaas by te voeg waaruit generasies nog waarde gaan put.
Deur op die voorpunt van ontwikkeling en tegnologie in die Agri – bedryf (veral in graanopberging) te bly, verseker RSA Grain Storage Solutions dat die beste koste effektiewe opsies vir hul kliënte gebied word.











