Vier Kampioene, Een Kroon: Lamb Champs se Laaste Stryd by Nampo
6 min read|
⏳ 5-6 min - Estimated read time Watch the video


Watch the video here!
Die Lamb Champs 2025-kompetisie het tot ’n hoogtepunt gekom tydens ’n opwindende nasionale eindronde by NAMPO Alfa. Vier uitsonderlike familie boere – elkeen reeds ’n streek wenner – het mekaar die stryd aangesê. Dié unieke kompetisie, geborg deur onder andere Pick n Pay, Toyota en Zoetis, het die beste lamsvleis wat Suid-Afrika kan bied gevier, terwyl dit verbruikers en boere op ’n prettige manier saamgebring het.
Met streeks feeste vol musiek, spitbraai-aromas en hope pret, was Lamb Champs 2025 se reeks ’n groot sukses – waar bykans amper 15 000 mense altesaam die vier streeks rondtes vanjaar bygewoon het. Die eindronde in Bothaville het die laaste hoofstuk van hierdie smaakvolle avontuur afgesluit.
’n Nuwe Kampioen is Gekroon: Hennie Jonker bring die kroon Vrystaat toe
Na jare se deelname, deursettingsvermoë en geloof het Hennie Jonker en sy gesin van Zorro, Kroonstad, uiteindelik hul droom bereik. Die Lamb Champs 2025-kroon is die vrug van jare se harde werk en familie-eenheid. “My gesin is my alles – hulle is die rede hoekom ek opstaan en hoekom ek boer,” sê Hennie met opregte dankbaarheid. Vir hom is skaapboerdery nie net ’n beroep nie, maar ’n roeping – iets wat met passie, geloof en volharding gedoen word. Hy dra die oorwinning op aan sy gesin, sy ouers en sy Skepper wat hulle deur moeilike tye gedra het. Hierdie oorwinning is ’n huldeblyk aan boere wat met hart en eerlikheid werk – en aan die gemeenskap wat hulle ondersteun. Hennie Jonker is die trotse Lamb Champs 2025-kampioen – ’n ware boer van die Vrystaat, met gees, geloof en trots in elke sny vleis.
Vier finaliste. Vier stories. Een onvergeetlike jaar van kompetisie!

Lize Mans (Kakamas, Noord-Kaap) – Dorper-diva van die Kalahari
Lize Mans het op 13 Junie die Noord-Kaapse Lamb Champs-rondte in Kimberley gewen en so die eerste finalis van 2025 geword. Haar Dorper-lam het uitgestaan in geur, balans en vleisgehalte. As ’n boerin van Kakamas, waar Dorpers floreer in droë toestande, het sy met trots haar streek verteenwoordig.
Wat haar styl besonders maak, is haar passie en noukeurige aandag aan haar diere. Sy is ’n boervrou wat weet waaroor kwaliteit gaan, en haar deelname aan Lamb Champs wys dat die speelveld gelyk is. Haar Dorper-lam het ’n kragtige boodskap gestuur: in die kaal Kalahari kan vleisgehalte steeds koning kraai. Lize is die enigste vroue finalis vanjaar en bring met haar deelname nie net diversiteit nie, maar ook ’n wenresep wat op geen man wag nie.

JP Nel (Stella, Noordwes) – Dorpers van die Noorde
JP Nel het op 26 Julie die Pretoria Lamb Champs-rondte gewen, by Loftus Versfeld. Sy swartkop Dorper-lam het die beoordelaars oortuig dat in die kompetisie waar ’n 108 lammers op die spit beoordeel was, hy koning sou kraai saam die 8 000 mense wat die fees bygewoon het.
JP se lam het uitgeblink en die Pretoria-kroon vir hom verseker. Hy het R80 000, ’n trofee asook ’n Weber-braai gewen, maar vir JP was die grootste oorwinning die netwerkgeleentheid en erkenning wat met die titel saamgekom het: “Dit is ’n lekker plek om met ander boere te gesels en wenke uit te ruil”, sê hy.
Hy boer hoofsaaklik met beeste en het net sowat 25 Dorper-ooie op sy plaas Enkelbos naby Stella. Sy oorwinning wys dat boerdery vernuf nie in volume lê nie, maar in gehalte. “’n Klein outjie kan ook wen,” sê hy met trots. Die Pretoria-rondte was vol vermaak – van musiek tot die bekende skaapkop-eetkompetisies.

Hennie Jonker (Kroonstad, Vrystaat) – Hampshire Down-meester
Hennie Jonker is ’n skaapboer van Kroonstad en ’n kenner van die Hampshire Down-ras. Hy het Vrystaat se Lamb Champs-rondte op 6 September by die Afridome in Parys gewen. Sy inskrywing – ’n uitmuntende Hampshire Down-lam – het uitgestaan tussen mededingers van die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap en Gauteng.
Sy wenresep? Topgehalte lammers wat beide op die hoef en op die bord indrukwekkend is. Nie net het Hennie met die eerste plek en die R40 000 prysgeld gewen nie, hy het daardie dag ook die TAU-karkaskompetisie gewen. Sy lam se karkas (25,4 kg) is op die veiling vir R30 000 verkoop – ’n ware hoogtepunt wat die skare laat hande klap het.
Hennie se gesinsbetrokkenheid en ervaring in stoetery skyn deur in sy benadering. Hierdie boer kombineer tradisie en tegniek: sy inskrywing blink uit in beide lewendige toestand en as karkas. Hy fokus daarop om lammers teen omtrent vier maande oud op slaggewig te kry, sonder om op vleisgehalte in te boet.

Louis Botha (Cradock, Oos-Kaap) – Die Meatmaster-maestro
Louis Botha het op Erfenisdag 2025 geskiedenis gemaak deur die Boland Lamb Champs-rondte by Hoër Landbouskool Boland in Paarl te wen. Dié jong boer van Cradock in die Oos-Kaap het met sy prag Meatmaster-lam die beoordelaars beïndruk en die laaste plek in die nasionale finaal ingepalm.
Wat Louis se styl besonders maak, is sy natuurlike benadering tot lamgroei: hy vermy kragvoeding en laat sy skape op topgehalte veld weiding grootword. Die resultaat is sterk karkasse en smaaklike vleis – en dit was duidelik by Paarl toe hy die R40 000 kontantprys en ’n spesiaal ontwerpte trofee opgeraap het. Louis,’ n jong pasgetroude boer, moedig ander boere aan om hul geluk te beproef: “As jy dit nooit probeer nie, gaan jy nooit weet hoe jy meet nie. Vat ’n kans” sê hy.
By die Boland-byeenkoms is daar ook ’n rekord-lamprys behaal toe Pierre Cilliers, ’n boer van Affi Plaas, se Dorper-kruiskarkas vir R72 000 opgeveil is – iets wat die waarde van topgehalte lam bevestig het.
Die Groot Finaal by Nampo Alfa: Wat het gebeur
Die Lamb Champs 2025-eindstryd het tydens die NAMPO Alfa Ekspo in Bothaville plaasgevind – die vee en buitelewe-skou wat van 16 tot 18 Oktober 2025 by NAMPO Park gehou was. Die hoogtepunt het op Vrydag afgespeel, toe die vier kampioene hul alles gegee het. Lamb Champs 2025 het geëindig as ’n skouspel van smaak, vaardigheid en boeretrots.
Mag die wenner die kroon met trots dra – en die volgende keer as jy lam braai, maak seker dis ‘n Lamb Champs braaipakkie.











