Wintertyd is bontlong tyd
Griepseisoen is op ons en orals hoor mens die


Griepseisoen is op ons en orals hoor mens die eggos van kuggies. In ons vee begin mens nat en vuil neuse sien, ‘n val in voedselinname, groei (g/dag opgetel) en produksie. Verskeie faktore speel ‘n rol met die toename in boonste en onderste lugweginfeksies tydens hierdie tyd. Enige iets wat die druk op die immuunstelsel van die dier verhoog gaan ‘n geleentheid skep vir ‘n verskeidenheid bakterieë en virusse om die lugweg aan te val.
Hierdie faktore sluit vervoer, spening, parasiet lading, slegte weer, verandering van voer en vermenging van diere in. Die lugweg van diere bestaan nie net uit fisiese verdedigings lae soos die slymvliese nie, maar ook ‘n delikate balans in die samestelling van populasie van mikro-organismes. Sou hierdie balans versteur word gee dit vatplek vir normale bakterieë om in abnormale hoeveelhede die liggaam aan te val of dit gee aan patogeniese mikro-organismes geleendheid om die slymvliese binne te dring.
‘n Voorbeeld hiervan is die bakterie Mannheimia haemolytica wat in gesonde diere aangetref word in die mikro-flora van die lugweg. Sou die organisme in te groot hoeveelhede aanteel sal dit lei tot infeksie, toksien produksie en ook longontsteking. Sou die lugweg se vermoë om van respiratoriese virusse ontslae te raak, verminder word, kan hierdie virusse genoeg skade aan die weefsel doen om die kolonisering van bakterieë tot gevolg te hê.
Droeë stowwerige kondisies of hoë vlakke van ammoniak lei tot die oorweldiging en verkorting van die selvingers (silia) van die lugpyp wat die bogenoemde materiaal verwyder uit die lugweg wat die natuurlike beskerming verswak. Hierdie kringloop van virusse en omgewingsfaktore wat lei tot ‘n infeksie met bakterië staan bekend as “shipping fever” of Bees Respiratoriese Siektekompleks (BRS).
Dit word beraam dat 75% van siek beeste en 50-60% van vrektes aan respiratoriese siekte toegeskryf kan word.

Kliniese tekens in die lewendige dier sluit depressie (hangende ore en nie lus om te beweeg nie), geen eetlus, verhoogde asemhalingstempo en -moeite, af en toe ’n nat hoes en tamheid in. ‘n Waterige, slymerige of etterige neusafskeiding kan teenwoordig wees. ‘n Koors bo 40°C is algemeen. ‘n Koorspen is ‘n ononderhandelbare hulpmiddel in ‘n boer se noodhulp tas.
Die siekte toestand kan ‘n vinnig dood in kalwers veroorsaak, voor hul as siek geïdentifiseer word deur personeel, of kronies raak (oor ‘n langer tydperk die diere onderkry). Die slymerige en etterige neusafskeiding kan lei tot aangepakte bekke en neuse. Asemnood in erge gevalle kan lei tot asemhaling deur die mond, met steun geluide tydens uitasem. Kalfies kan met uitgestrekte nek en uitgedraaide elmboë staan. Tydens ’n uitbreek kan 20% of meer kalfies wat klinies normaal voorkom, ’n koors van >40°C hê.
Vir onlangs gespeende, nuut ontvangde voerkraal kalwers, word antibiotika behandeling gewoonlik op grond van kliniese tekens begin.
Ten spyte van konstante navorsing om effektiewe entstowwe te ontwikkel en die verbetering van bestuurs programme, is daar steeds gevalle waar die boer afhanklik is van antibiotika vir voorkoming en behandeling. ‘n Breëspektrum antibiotika soos Ultratet® (oksitetrasiklien) word algemeen toegedien, selfs wanneer ’n virale infeksie vermoed word, om sekondêre bakteriële infeksie hok te slaan. Buiten entstowwe en antibiotika vir die beheer van longontsteking, moet mens nie die waarde van vooraf kondisionering se impak op die voorkoming van die siekte-kompleks onderskat nie.
Vooraf kondisionering:
- Verseker genoegsame biesmelk inname.
- Kastreer vroeg.
- Verskaf die relevante inentings.
- Wurm- en bosluisbeheer.
- Speen op die plaas van oorsprong.
- Vervoer direk na die voerkraal.
- Gee ’n vitamien en mineraal aanvullings hupstoot (ook aanbeveel tydens behandeling).

Daar is verskeie diagnostiese toetse wat die siekte kan bevestig in onbehandelde diere, veral wat antimikrobiese vatbaarheid aan betref. U veearts, sal dit kan aanvra om die mees gepaste en effektiefste antibiotika voor te skryf, indien nodig.
Na-doodse ondersoeke sal van die onderstaande letsels wys:
- Bloedvat skade.
- Afskeiding van proteïen stolsels in die longe (*dit lyk soos strooikleurige drade slym).
- Vog in longweefsel (dit lyk soos wit skuim en kan in die "trachea" (lugpyp) ook voorkom).
- Ophoping van vloeistof en proteïen stolsels* in die borsholte.
- Bontlong (die longe se kleur is bont, soos die naam sê, en nie eenvormige ligte pienk nie).
- Leweragtige long (die long voel dieselfde as die lewer wanneer mens daaraan voel en nie sag en sponsagtig soos normaal weg nie).
Die voorste-onderste deel van die long verdig aan beide kante en word ferm en swaar (leweragtig). Lobbetjies in die geaffekteerde area verkleur rooi, grys of naby swart, in ’n spektrum van stadiums van die longontsteking proses. Dié verskyning word beskryf as bontlong. Daar is dus ’n duidelike onderskeid tussen normale long weefsel en longontsteking. Akute longvliesontsteking vergesel gewoonlik longontsteking letsels met plate proteïen stolsels wat ligtelik vas is, of in kroniese longvliesontsteking, bindweefsel wat vaal vertoon en ferm geheg is aan die longvliese en/of hartsak.
Groot volumes strooi-kleurige borskas vloeistof kom somtyds voor. Die longe kan ‘n geruite voorkoms hê, waar vloeistof en proteïene tussen lobbetjies versamel. Proteïen-ryke of etterige long- en lugpypontsteking tydens nadoodseondersoek is hoogs aanduidend van M. haemolytica, alhoewel H. somni ook letsels met proteïen stolsels veroorsaak.
Siektes wat hierdie simptome kan veroorsaak sluit in, Histophilus somni, mikoplasmose, beesvirus-diarree (BVD), bees sinsitiale virus (BRSV), aansteeklike beesrinotrageïtis (IBR), herpes virusse, parainfluenza virusse, jaagsiekte in skape, rumen asidose, sporadiese long absesse of aspirasie-longontsteking. Kontak u veearts om te help om te onderskei tussen die organismes sodat die regte medisyne voorgeskryf kan word.
Longontsteking, veral in die voerkraal is, ‘n erosiesiekte, dit steel produksie by die boer en kan die impak van die siektetoestand verminder en beperk word deur verskeie omgewings- en bestuurs aanpassings. Weet waarvoor om te kyk, tree vroegtydig op, en bo alles tree eerder voorkomend op.

Ultratet LA 200, RSA Reg. No. G2857 (Act 36/1947)










