Groot oeste, dun marges: Steenhuisen erken die druk — maar wanneer kom die ingryping?
9 min read|


Terwyl die regering die sukses van landbou-uitvoere beklemtoon, het John Steenhuisen ’n moeiliker werklikheid erken: voedselsekerheid begin nie by groot oeste of sterk uitvoersyfers nie, maar by produsente wat winsgewend genoeg is om aan te hou boer. By die GraanSA kongres het die gesprek dus nie net gewentel om produksie alleenlik nie, maar om die vraag wat nou al meer dringend word: as die staat weet waar die druk lê, waarom beweeg die oplossing nog so stadig?
John Steenhuisen se verskyning by Graan SA se kongres in Bothaville was nie bloot nog ’n item op ’n besige landbouprogram nie. Vir die produsente in die saal was dit ’n geleentheid om direk te hoor hoe die regering die huidige werklikheid op plase lees — en om die minister onmiddellik daaroor te toets.
Dit is presies daardie spanning wat oor die hele sessie gehang het. Aan die een kant is daar die nasionale verhaal waarmee die regering graag vorendag kom: landbou wat groei, uitvoere wat sterk bly, en ’n sektor wat steeds ’n belangrike rol in die ekonomie speel. Aan die ander kant is daar die plaaslike realiteit waarin pryse knak, insetkoste verhoog, infrastruktuur wat swak funksioneer en beleidsbesluite wat te stadig beweeg. Dit beteken dat boere toenemend in ’n ruimte boer waar hulle méér risiko moet dra vir minder belonings. Die belangrikste vraag in Bothaville was dus nie of landbou nog op papier goed lyk nie, maar of dit op plaasvlak nog genoeg wins laat om volhoubaar te bly.
Die suksesverhaal wat nie oral dieselfde klink nie
Vanuit die regeringshoek is die boodskap duidelik en selfs verstaanbaar. Suid-Afrika se landbou-uitvoere het sterk vertoon, en die amptelike narratief is dat die sektor steeds bewys hy is een van die land se mees veerkragtige ekonomiese drywers. Dit is die tipe boodskap waarmee ’n minister gerus na ’n produsente gehoor sal kom: ’n sektor wat buitelandse valuta verdien, nuwe markte behou en internasionaal mededingend bly.
Maar op die plaasvlak land dié boodskap nie altyd met dieselfde oortuiging nie. Graanprodusente meet hul sukses nie aan makro-ekonomiese syfers of uitvoerprestasie nie. Hulle meet dit aan wat oorbly nadat die diesel betaal is, die kunsmis gekoop is, die finansiering gedra is, die vervoer gereël is en die produksie risiko geabsorbeer is. En dit is juis hier waar die glans van die groter suksesverhaal begin dof raak. Vir baie produsente het die afgelope seisoen nie soos groei gevoel nie. Dit het gevoel soos oorlewing.
Die rede daarvoor is eenvoudig: laer kommoditeitspryse het op baie plase ’n harder impak gehad as die goeie nuus oor uitvoer groei koers. Terwyl inkomste terugbeweeg het, het uitgawes nie in dieselfde mate gesak nie. Kunsmis bly duur, brandstof druk verhoog, rentedruk byt harder, en die algemene koste van produksie het nie bloot verdwyn omdat die sektor as geheel goed vertoon nie. Dit is waarom baie produsente al hoe meer sê dat die probleem nie produksie self is nie, maar die ruimte om winsgewend te bly.
“Die groot probleem in graan is nie dat boere nie produseer nie — dit is dat hulle al hoe moeiliker wins maak.”
Die belangrikste sin van die dag
Teen hierdie agtergrond was Steenhuisen se belangrikste bydrae waarskynlik nie ’n nuwe beleid belofte of ’n groot aankondiging nie, maar ’n eenvoudige sin wat die hele debat op sy kop teruggesit het: “Food security rests on farm profitability.” Dit was ’n betekenisvolle oomblik, nie net omdat dit nuut geklink het nie, maar omdat dit uit die mond van ’n minister gekom het. Daarmee het hy basies erken wat produsente al lank probeer duidelik maak: voedselsekerheid begin nie by groot oeste of sterk uitvoersyfers nie; dit begin by die vraag of die boer wat plant, stroop en bemark, ekonomies in staat is om dit weer volgende seisoen te doen.
Daardie onderskeid is belangrik. ’n Boer hou nie onmiddellik op om te boer wanneer marges begin knyp nie. Hy sny eers op ander plekke. Hy stel aankope uit. Hy verminder risiko. Hy skuif produksie. Hy probeer langer deurdruk as wat finansieel gesond is. Maar oor tyd begin swak winsgewendheid die produksiebasis stadig uithol. Dit gebeur nie in een dramatiese oomblik nie. Dit gebeur stil, seisoen na seisoen, totdat dit uiteindelik in die groter voedselstelsel begin wys.
Steenhuisen se stelling het dus die debat terug geanker in die werklikheid. Dit het erken dat die vermoë om te produseer nie genoeg is nie; die vermoë om winsgewend te produseer is wat uiteindelik bepaal of ’n land sy voedselsekerheid kan volhou.

Koring wys waar die skeur al sigbaar is
Een van die voorbeelde wat tydens die sessie genoem is, was die koringbedryf. Suid-Afrika verbruik aansienlik meer koring as wat plaaslik geproduseer word, en die verskil moet deur invoere aangevul word. Op die oog af lyk dit soos ’n eenvoudige produksiegaping, maar in werklikheid wys dit op iets dieper en ongemaklike: die ekonomiese omgewing is nie sterk genoeg om plaaslike produksie op die vereiste vlak te dra nie.
Dit is nie omdat Suid-Afrikaanse produsente nie die vermoë het om koring te produseer nie. Die kennis, tegnologie en ervaring is daar. Maar wanneer ’n boer die risiko en koste van koring teenoor ander produksiekeuses opweeg, speel winsgewendheid ’n bepalende rol. As die marge te klein en die onsekerheid te groot is, skuif produksie noodwendig. Dan word invoer nie ’n tydelike aanvulling nie, maar ’n permanente struktuur van die stelsel.
Dit maak die koring-voorbeeld belangrik, juis omdat dit wys hoe voedselsekerheid en winsgewendheid inmekaar haak. ’n Land kan nie ernstig praat oor selfstandigheid in voedselvoorsiening as die plaaslike produsent nie voldoende ekonomiese ruimte het om daardie rol te vervul nie. Wanneer plaaslike produksie nie leefbaar is nie, groei afhanklikheid van invoere byna vanself.
“Voedselsekerheid rus nie op potensiaal alleen nie; dit rus op produsente wat ekonomies die ruimte het om aan te hou plant.”
Die daaglikse druk wat boere se marge wegvreet
Waar Steenhuisen se toespraak besonder relevant geword het, was in die detail van die kostedruk waarmee produsente leef. Dit is maklik om op ’n hoë vlak oor landbou te praat — marktoegang, uitvoere, groei, mededingendheid. Maar op die plaas word boerdery eenvoudiger en harder bereken. Dit gaan oor kunsmis, diesel, vervoer, onderhoud, rente en die alledaagse vraag wat by elke besluit opduik: is daar nog genoeg marge oor om hierdie risiko te dra?
Kunsmis bly een van die grootste koste-items in gewasproduksie, en omdat Suid-Afrika grootliks van invoere afhanklik is, word produsente blootgestel aan internasionale prysbewegings en wisselkoersskommelinge waaroor hulle geen beheer het nie. Dit beteken dat die koste nie net deur plaaslike toestande bepaal word nie, maar deur ’n groter internasionale mark waarin die boer op grondvlak weinig hefboom het.
Daarby kom logistiek — en dit is hier waar strukturele probleme al hoe groter word. Waar spoorvervoer vroeër ’n groter rol in die beweging van graan gespeel het, rus die las nou al hoe meer op padvervoer. Dit maak vervoer duurder, plaas meer druk op landelike paaie en sny verder in die plaashek-marge in. Die probleem is dus nie een enkele kostefaktor nie. Dit is die opstapeling van verskeie kostes en knelpunte wat saam ’n produsent se finansiële ruimte wegvreet.
Hierdie druk is juis waarom boere toenemend sê dat goeie produksie nie meer voldoende is nie. Jy kan ’n sterk oes van die land af haal en steeds met ’n baie klein marge of selfs ’n teleurstellende finansiële uitkoms sit. Dit is waar die werklike krisis lê.
Wanneer beleid te stadig beweeg vir die werklikheid
Nog ’n belangrike punt uit die sessie was die probleem van beleids- en administratiewe traagheid. Dit klink dikwels tegnies, maar op plaasvlak het dit baie werklike gevolge. Wanneer daar meganismes bestaan wat produsente veronderstel is om teen sekere markskokke te beskerm, maar die toepassing daarvan is stadig of ondoeltreffend, verloor boere grootliks daardie beskerming se waarde.
Vir boere is tyd nie ’n abstrakte beleid begrip nie. Tyd is plantvensters, aankoopbesluite, bemarking en risiko. Markte beweeg vinnig. Pryse verander vinnig. Invoervlakke verskuif vinnig. Wanneer die staat se reaksie aanhoudend agter daardie ritme aanloop, is dit die produsent wat die koste van daardie vertraging absorbeer. Onsekerheid word dan nie net ’n irritasie nie; dit word ’n risiko.
Dit is juis waarom produsente so sterk fokus op voorspelbaarheid. Hulle vra nie noodwendig vir meer staatsinmenging of groter beskerming teen elke markbeweging nie. Wat boere vra, is eenvoudiger en in baie opsigte meer fundamenteel: reëls wat werk, prosesse wat betyds funksioneer, en administrasie wat nie self nog ’n las op ’n reeds riskante bedryf plaas nie.

Die saal het die werklike boodskap teruggegee
Die vraag-en-antwoordsessie ná die toespraak het gewys dat produsente se bekommernisse baie verder strek as net pryse. Vrae oor waterwetgewing, ondersteuning vir ontwikkelende boere asook biosekuriteit , het dit duidelik gemaak dat boere nie net met markdruk werk nie, maar ook met ’n staatstelsel wat dikwels te stadig, te onduidelik of te swak funksioneer.
Hier lê dalk die belangrikste les uit Bothaville: die staat se rol in landbou word nie net gemeet aan sy groot beleidsverklarings nie, maar aan sy vermoë om daaglikse funksionele sekerheid te bied. Waterregte wat onseker is, biosekuriteit wat nie op standaard is nie, asook administratiewe prosesse wat sloer word alles deel van die boer se produksierisiko. En anders as prysskommelings, is dit die risiko’s wat produsente nie sommer self kan bestuur of neutraliseer nie.
Wat boere dus in Bothaville teruggesê het, was dat erkenning welkom is — maar nie genoeg nie. Die vraag is nie meer of die regering die druk raaksien nie. Die vraag is of hy vinnig genoeg kan beweeg om die skade te beperk.
“Boere vra nie vir ’n staat wat die mark namens hulle bestuur nie; hulle vra vir ’n staat wat ophou om hul risiko onnodig te vergroot.”
Die krisis is nie die oes nie, maar die ruimte om aan te hou
As Steenhuisen se verskyning by Graan SA se kongres een saak helder gemaak het, is dit dat die groot uitdaging in Suid-Afrikaanse graan nie eenvoudig ’n oeskwessie is nie. Die land se produsente kan plant, produseer en presteer. Die probleem lê eerder in die al kleiner ruimte om dit winsgewend en volhoubaar te doen. Dit is waarom die gesprek soveel gewig gedra het: dit het erken dat voedselsekerheid nie afsonderlik van die boer se winsgewendheid kan word nie.
Vir produsente op grondvlak tel dit nie die korrektheid van die diagnose alleen nie, maar die spoed en erns van die ingryping wat daarop volg. Terwyl regeringsprosesse voortgaan en beleidsraamwerke verfyn word, bly die realiteit op plase onveranderd: insetkoste druk, logistiek ontbreek, marges krimp en elke seisoen word in ’n kleiner finansiële venster bestuur.
Die vraag wat nou oorbly, is dus eenvoudig en dringend: as die regering self erken dat voedselsekerheid op plaas winsgewendheid rus, hoe lank gaan dit neem voordat daardie gedagte in konkrete verandering omskakel? Want as die staat te lank wag, gaan Suid-Afrika nie eerste ’n oeskrisis sien nie. Hy gaan eers sien hoe winsgewendheid stadig begin breek — en dít is uiteindelik waar die werklike gevaar lê.











