NAMPO 2026: waarom dié jaar se oesdag nie misgeloop moet word nie
4 min read|


Landbou se grootste ontmoetingsplek
Wanneer NAMPO Park Bothaville maaksy hekke vanaf 12 tot 15 Mei 2026 oop, word dié weer die middelpunt van Suid-Afrikaanse landbou. Vir vier dae lank kom produsente, werktuigvervaardigers, insetverskaffers, tegnologiemaatskappye, telersgenootskappe, finansiële instellings, navorsers en landbougesinne op een terrein bymekaar. Dit is waar boere kyk, vra, vergelyk, koop, luister, leer en huis toe gaan met nuwe idees vir hul eie plase.
NAMPO is nie sommer net ’n skou nie. Dit is een van die grootste landbou-uitstallings in die Suidelike Halfrond en het oor dekades gegroei van ’n oesdag met 200 produsente in 1967 tot ’n instelling wat vandag die hele landbouwaardeketting bymekaar bring. Die eerste NAMPO Oesdag wat op die huidige NAMPO Park-terrein plaasvind is in 1974 aangebied. Volgens die 2026-feite spog NAMPO vanjaar met 910 uitstallers, ’n totale uitstaloppervlakte van 401 932 m².
Hoekom NAMPO 2026 anders voel
Die 2026-tema, “Resilience through Innovation”, is meer as net ’n slagspreuk. Dit praat direk met die werklikheid waarin produsente vandag boer: wisselvallige klimaatstoestande, hoë insetkoste, veranderende markte, siektedruk, tegnologiese verandering en die voortdurende druk om meer doeltreffend te produseer. Graan SA beskryf NAMPO 2026 as ’n plek waar tegnologie, kennis en praktiese oplossings saamkom om produsente te help om meer veerkragtig, meer doeltreffend en meer winsgewend te boer.
Juis daarom is NAMPO 2026 belangrik. Dit is nie net ’n dag om nuwe trekkers te bewonder of deur rye uitstallers te stap nie. Dit is ’n geleentheid om die antwoorde op plaasvlak te gaan soek: Hoe sny ek koste sonder om opbrengs prys te gee? Watter tegnologie kan werklik tyd spaar? Hoe lyk die nuutste presisieboerdery-oplossings? Watter data kan my help om beter besluite te neem? Hoe bestuur ek risiko in ’n seisoen waar niks meer vanselfsprekend is nie?
NAMPO maak hierdie gesprekke prakties. ’n Boer hoef nie net oor innovasie te lees nie; hy kan dit sien werk, die kenners direk uitvra en verskillende opsies op een terrein vergelyk. Van gevorderde meganisasie en spuithommeltuie tot saadtegnologie, genetika, navorsing, finansiering en digitale hulpmiddels — NAMPO skep die ruimte waar landbou se volgende stap tasbaar word.
Nuwe energie op die terrein
Besoekers kan in 2026 uitsien na verskeie nuwe hoogtepunte. Graan SA sê die skou bou voort op sy gevestigde reputasie, maar bring ook nuwe produk bekendstellings, voertuie, verskeie nuwe trekkers asook beplande demonstrasies en ander praktiese tegnologie-oplossings.
Die bekende gunstelinge bly egter deel van die NAMPO-ervaring. Die Standard Bank 4x4-baan en Adventure 4x4-baan keer terug met aksie belaaide demonstrasies, terwyl die saadproewe aan die oostekant waardevolle insig in nuwe genetika en gewasopsies bied. Die Nation in Conversation-reeks bring weer hoëvlak gesprekke oor plaaslike en internasionale landboukwessies na die tafel, die Graan SA Museum vertel die verhaal van Graan SA, NAMPO en die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse graanproduksie.
’n Ander, maar steeds waardevolle vee-ervaring
Een van die grootste veranderings vir 2026 is die hantering van vee-uitstallings. Weens die bek-en-klouseer-risiko het Graan SA en NAMPO-bestuur bevestig dat geen gesplete hoefdiere — beeste, skape, bokke en varke — by NAMPO 2026 toegelaat sal word nie. Die besluit is geneem ná risiko-assessering en oorleg met betrokke rolspelers.
Dit beteken egter nie die veekomponent verdwyn nie. Telersgenootskappe sal steeds teenwoordig wees en word aangemoedig om die genetiese waarde, prestasiedata en produksie-eienskappe van hul rasse op kreatiewe maniere uit te stal. Perde, honde en pluimvee sal wel toegelaat word, onder streng biosekuriteitsmaatreëls. Hierdie aanpassing wys presies waaroor NAMPO 2026 gaan: verantwoordelike besluitneming, aanpasbaarheid en innovasie, selfs wanneer omstandighede verander.

Die NAMPO App: jou slim gids deur ’n reuse-ervaring
Op ’n terrein met meer as 900 uitstallers kan ’n besoeker maklik oorweldig voel. Dit is hier waar die NAMPO App die ervaring soveel beter maak. Die app is ontwikkel deur Graan SA in samewerking met FarmSpace en is ontwerp om navigasie, skedules en kommunikasie vir besoekers en uitstallers makliker te maak.
Die app bied ’n interaktiewe kaart waarmee besoekers uitstallers, kosstalletjies, toilette, demonstrasie-areas en ander belangrike punte op die terrein kan vind. Gebruikers kan volgens uitstaller, produk soort of stand nommer soek en dan roetes deur NAMPO Park beplan. Dit beteken minder tyd wat verlore gaan en meer tyd by die uitstallers, demonstrasies en gesprekke wat vir jou plaas of besigheid saak maak.
Die app se dagbeplanner maak dit moontlik om uitstallers, masjinerievervaardigers, paneelgesprekke en ander gebeure te boekmerk. Outomatiese herinnerings help besoekers om by hul beplande program te hou. Daarby bevat die app gedetailleerde uitstellerprofiele met brosjures, produk-inligting, video’s en kontakbesonderhede, sodat ’n besoeker voor, tydens en ná die skou makliker met die regte mense kan skakel.
Die kennisgewingstelsel is nog ’n groot voordeel. Belangrike opdaterings soos verkeersnuus, programveranderings, weerwaarskuwings en uitstellerpromosies kan direk na gebruikers se fone gestuur word.
Die app is beskikbaar vir Android en iPhone, so jy het geen verskoning om nie die NAMPO App te gebruik nie.
Die waarde lê in wat jy huis toe neem
Die grootste rede om NAMPO 2026 by te woon, is nie net wat jy daar sien nie, maar wat jy huis toe neem. ’n Nuwe kontak. ’n Beter begrip van ’n tegnologie. ’n Idee om diesel, tyd of arbeid te bespaar. ’n Gesprek wat jou laat anders dink oor risiko. ’n Produk wat ’n probleem op jou plaas kan oplos. ’n Stukkie inspirasie wat weer moed gee vir die volgende seisoen.
NAMPO bring die bedryf bymekaar op ’n manier wat min ander platforms kan doen. Dit gee aan produsente die kans om in een besoek te sien waarheen landbou beweeg — en om self te besluit watter oplossings werklik by hul eie boerdery pas. In ’n tyd waar elke besluit meer gewig dra, is toegang tot betroubare inligting, praktiese demonstrasies en direkte gesprekke met kenners nie ’n luukse nie. Dit is deel van beter boerderybestuur.
Kom kyk hoe die toekoms van boerdery lyk
NAMPO 2026 gaan oor meer as trekkers, implemente, stalletjies en groot getalle. Dit gaan oor ’n bedryf wat aanhou vorentoe beweeg, selfs wanneer die druk groter raak. Dit gaan oor boere wat nie net wil oorleef nie, maar slimmer, sterker en meer volhoubaar wil boer. Dit gaan oor tegnologie wat prakties raak, kennis wat gedeel word en mense wat saam oplossings soek.











